Bipolêre versteuring (wat vroeër as bipolêre depressie of manies-depressiewe versteuring bekend gestaan het), is ‘n toestand wat dikwels misverstaan word.
‘n Mens kan aflei dat bipolêre versteuring ‘n aanval op jou GEMOED loods en jou soms so neerslagtig kan laat dat jy nie normaal kan funksioneer nie. ‘n Mens moet daarteen waak om dit nie met major depressie te verwar nie, al sukkel selfs professionele terapeute soms aanvanklik om bipolêre versteuring te diagnoseer weens die ingewikkelde aard van die simptome.
Bipolêre versteuring is dus ‘n diagnoseerbare sielkundige toestand wat gekenmerk word deur groot skommelinge in ‘n persoon se gemoedstoestand, vanaf uiterste depressie (lae gemoed) tot uiterste manie (uitermatige, ontoepaslike opgeruimdheid).
Bipolêre versteuring het vroeër bekend gestaan as manies-depressiewe versteuring weens die gemoedskommelinge en periodes van normaliteit tussendeur. Persone wat aan dié versteuring ly, is gewoonlik deeglik bewus daarvan dat hulle sukkel met hulle gemoed as gevolg van die abnormaal hoë gevoelskommelinge. Dit is ook algemeen dat hierdie persone soms probleme het om in die samelewing te funksioneer, veral gedurende ʼn maniese fase, en dikwels skuldig voel oor hul gedrag tydens dié fase.
Navorsing oor dié toestand duur steeds voort, maar ‘n kombinasie van medikasie en psigoterapeutiese behandeling (om ‘n sielkundige te gaan spreek), kan die simptome grootliks verlig en lewenskwaliteit verbeter.
Vir iemand om met bipolêre versteuring gediagnoseer te word, kan die simptome nie die gevolg wees van die misbruik van alkohol of ander middels nie en dit moet ook nie aan ‘n ander siektetoestand te wyte wees nie.