Skisofrenie
Daar bestaan baie wanopvattings oor skisofrenie, asook wat die term “skisofrenie” eintlik beteken. Baie van hierdie wanopvattings bestaan omdat skisofrenie ‘n ingewikkelde siekte is om te verstaan, asook om te diagnoseer. Skisofrenie beteken nie ’n “gespelete persoonlikheid” nie. Laasgenoemde is ‘n populêre term wat verwys na die rare voorkoms van veelvuldige persoonlikheidsversteuring, wat nie verband hou met skisofrenie nie. Die meeste mense met ‘n diagnose van skisofrenie is nie gewelddadig of gevaarlik nie, en woon meestal op hulle eie of by familie. Slegs in ekstreme gevalle van skisofrenie word permanente hospitalisering benodig.
Skisofrenie is ‘n ernstige kondisie van die brein waar mense die realiteit as anders as die gemiddelde persoon ervaar. Dit beteken dat die meeste mense met skisofrenie terugvalle het waar hulle hallusineer (dinge sien of hoor wat nie bestaan nie), of delusies (“vreemde” oortuigings, bv dat die persoon Jesus is) ervaar. Die toestand gaan ook gewoonlik met deurmekaar, onlogiese spraak gepaard. Verder ervaar mense met ‘n diagnose van skisofrenie ook afgestompte, of ontoepaslike emosies. So ‘n persoon sal dalk giggel oor ‘n hartseer aangeleentheid, of geen emosies ervaar tydens bv. die dood van ‘n geliefde nie. Mense met gediagnoseerde skisofrenie vind ook gewoonlik nie plesier in sosialisering of in aktiwiteite waarin die meeste mense genot vind nie. Hierdie mense ervaar ook oor die algemeen ‘n gebrek aan inisiatief om belangrike take te voltooi, soos bv om basiese selfsorg toe te pas,te bad en gereeld te eet. Skisofrenie kom baie saam met ander psigiatriese toestande voor, soos angsverwante toestande en fobies, asook veral obsessief-kompulsiewe versteuring.
Daar word algemeen aanvaar dat skisofrenie ‘n sterk genetiese basis as oorsaak het, maar dat omgewingsfaktore (bv. cannabis gebruik gedurende tienerjare, infeksies, en ondervoeding tydens swangerskap) ook ‘n rol kan speel. Mans is meer vatbaar vir die ontwikkeling van skisofrenie, en simptome begin gewoonlik in mense se twintigerjare duidelik waarneembaar word. Sosiale probleme kom gereeld onder mense met skisofrenie voor, bv. werkloosheid, lae tot geen inkomste, en uitbuiting deur ander mense.In vergelyking met die gemiddelde populasie is mense met skisofrenie daarom ‘n groter selfdood risiko, en ‘n groter risiko vir medies-verwante probleme.
Al is skisofrenie gewoonlik ‘n lewenslange kondisie, kan die meeste simptome verbeter met behandeling. Die meeste mense met skisofrenie wat die regte medikasie en sielkundige behandelling kry, se simptome en kwaliteit van lewe verbeter, en funksioneeroor die algemeen langer sonder terugvalle.